Toe ek my 50 cc-Honda in 1966 gekry het, het die geskiedenisonderwyser, Hennie (Matroos) Marais, my gewaarsku dat ek nou éérs gaan sleg doen op skool. Dit was die aansporing wat ek nodig gehad het: Ek het my skoolloopbaan daarna tot die tevredenheid van my verbaasde ouers afgesluit.
Ná skool is ek Kovsies toe, het Latyn en regte studeer, daarna klas gegee aan die universiteit en toe die prokureurspraktyk betree. Ek is in 1974 met Elize Horak getroud, wat ook ‘n regstudent (en Joolkoningin!) aan Kovsies was. In 1976 het ons ons in Kaapstad gevestig.
Aan die einde van die 1970’s is ek Londen toe om vir ‘n internasionale skeepsregfirma te werk. By my terugkeer, was ek vir twintig jaar die enigste Afrikaanssprekende praktiserende skeepsregprokureur in die wêreld.
Ek het in Maart 2024 uitgetree as ‘n senior vennoot van die korporatiewe afdeling van ENSafrica, na bewering Afrika se grootste regsfirma. Ek tree nou op as konsultant vir van my ou kliënte. Dit hou my besiger as wat ek gedink het, maar dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie.
Ons het twee dogters, ‘n laatlamseun, Theunie, wat in 1991 gebore is, en vyf kleinkinders. Theunie woon in Hong Kong waar hy as ‘n prokureur praktiseer; My dogter Bonnie (‘n marathon-hardloper wat al vyf van die wêreld se ses groot marathons gedoen het en nou haar oog op die sesde een het); en ons Franse kind, Martine. Nadat Martine ‘n honneurgraad in Frans aan Stellenbosch voltooi het, het sy ‘n beurs van die Franse regering ontvang om ‘n meestersgraad in Strasbourg te doen. Daarna het sy vir 10 jaar in Parys gewerk en ‘n Franse burger geword voordat sy besluit het die lewe in Kaapstad geval haar meer as die lewe in Parys.
Albei ons dogters woon en werk nou in Kaapstad: Bonnie is ook ‘n prokureur en Martine ‘n vertaler en kopieskrywer.
Ná dertig jaar as ‘n advokaat en senior advokaat is Elize aangestel as ‘n regter van die Hooggeregshof te Kaapstad, ‘n posisie wat sy beklee het tot met haar 70ste verjaardag aan die einde van 2022. Nou is sy salig afgetree en baie bly dat ons twee dogters se vyf jong kinders almal binne een kilometer van ons bly.
Ek is ook nou die voorsitter van die raad van die Alliance Française du Cap en hou my verder besig met my ou karre, motorfietse, treine, plate, cd’s en boeke in my “batcave” in Woodstock. Ek boer met groente in my tuin in Oranjezicht en gaan nog gereeld na ons familieplaas, Onze Rust buite Bloemfontein, meestal om met my pa se groot treinestel uit die 1950s en 1960s doenig te wees (“speel” sal die werk wat ek daaraan moet doen, te vlak stel!).