Header Image

Derrick du Toit

Ná skool gaan studeer ek ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch en verwerf my B.Ing graad in 1973. Ek trou in 1978 met Trudene du Plessis en stig in 1980, saam met Paul van Niekerk, ‘n ingenieursmaatskappy in Pretoria, bekend as IST.

Net ná my veertigste verjaardag pak ek, Trudene en ons drie kinders ‘n seilvaarttog om die wêreld aan. Ons kruis die Atlantiese en Stille Oseane, maar was ná 15 maande verplig om vanaf Nieu-Seeland terug te vlieg as gevolg van werksverpligtinge.

In 1999 emigreer ons gesin na Ottawa, Kanada, waar ons steeds woon. Ons familie het egter uitgebrei. Ons twee seuns en dogter is getroud en ons is die trotse oupa en ouma van vyf kleinkinders.