Header Image

Gerrie Zaaiman

Ná matriek het ek Weermag-opleiding ontvang by die Leërgimnasium op Heidelberg, Transvaal, waarna ek by 4SA Infanterie-Bataljon op Middelburg, Transvaal, gestasioneer was.

Op Stellenbosch was ek in Eendrag, waar ek siviele ingenieurswese geswot het, berg geklim het en in die studente-politiek ’n ergernis was vir Max du Preez.

Nadat ek graad gevang het, het ek gewerk as konstruksie-ingenieur en ook ontwerpingenieur vir staats- en private instansies. Ek het paaie, brûe, siviele infrastruktuur en geboue ontwerp en/of gebou, hoofsaaklik in die Vrystaat en Transvaal.

In 1984 sluit ek aan by Munich Reinsurance, en werk in hulle ingenieursversekeringrisiko-afdelings in Johannesburg, München, Londen, Melbourne en Sydney, waar ek darem kon leer seil in Port Jackson. Sedertdien was ek betrokke by die groot konstruksie- en produksierisiko’s en skade-insidente in Suidelike Afrika, soos die Hoogland-waterprojek, die vloedskades in Mosambiek weens Sikloon Eline in 2000, Mossgas, Sasol, BHP Billiton se Hillside Aluminium-smelter, Eskom se ou en nuwe kragstasies, myne in Zambië en Namibië en die Gautrain-projek.

Ek kon ook die skaapboere in die Karoo waarsku teen die besoedelingsgevare vir hulle waterbronne van waterstoffluoriedsuur, wat in hidrobreking vir skaliegasontginning gebruik word.

Ek is getroud met ’n wonderlike vrou, Mariana. Gelukkig is al ons kinders en ons twaalf kleinseuns nog almal in Suid-Afrika.

< Back to our profiles