Header Image

Jackie Leonard

Ná skool en ’n kursus op Glen, het ek die saaiboerdery betree voordat ek Amerika toe is waar ek vir sowat ’n jaar op plase gewerk het. Ek, wat toe nog nooit ’n stroper bestuur het nie, het myself in stroopwerk ingepraat, met padkaart in die een hand langafstand-aflewerings gedoen, in ’n kwekery gewerk … en selfs Petunia-saailinge uitgeplant!

Met my terugkeer het ek my vir sowat 15 jaar op die saaiboerdery toegespits. Dit het egter tot stilstand geknars nadat ek en my gesin in ’n motorongeluk was. Ek was vir 18 maande op die krukkelys, is gekortwiek in my bewegings en het besluit om my op bees- en skaapboerdery toe te spits.

Twee slaghuise was ’n logiese uitvloeisel: Harde werk, lang ure en moeë voete, maar van my beste tye. Goeie aanbiedinge het my egter genoop om die slaghuise te verkoop.

Nadat ek vir my vrou tydens ’n siekte moes instaan in die eiendomsbedryf, het ek my eie eiendomsonderneming begin.  Albei van ons is nog by eiendomme betrokke.  Intussen het ek eienaar van Heilbron Spar geword.  Met twee knievervangings wat gevolg het, is ek nou semi-afgetree. Ek en Tercea is 42 jaar gelede getroud en het twee dogters en ’n seun, Jackie, wat sy hoërskoolloopbaan in 2004 op Grey voltooi het.

< Back to our profiles