Header Image

Koos (Honeybee) Henning

Ná skool begin ek werk by die Departement van Waterwese as ‘n leerling-opmeter.  My eerste pos was in Postmasburg (destyds die Van der Kloof-pypleiding vir besproeiing) in hierdie dorre landskap.  Kort hierna begin ek met my diensplig, eers by die Leërgimnasium in Heidelberg en daarna 3 SAI in Potchefstroom.

Ná my diensplig het ek by verskeie landmeterfirmas in Bloemfontein, Pretoria en Kaapstad gewerk. In dié tyd is ek getroud en uit hierdie huwelik is twee dogters en ‘n seun wat my baie plesier verskaf, gebore.

Ek verander in die tyd om van rigting en sluit by die SA Lugmag aan.  Hier doen ek diens in verskeie poste in Bloemfontein, Hoedspruit, Pretoria en Kempton Park.  Ek verlaat die Lugmag in 1998 as kolonel en en werk by die Checkersgroep en Bidvest.

In 2000 is ek getroud met Marieke en ‘n seun is uit hierdie huwelik gebore.  Dit is wonderlik om op hierdie ouderdom weer ‘n seun in die huis te hê.  Verder is ek geseënd met vier kleinkinders en hopelik sal die eerste agterkleinkind op 15 November gebore word:  ‘n groot vreugde!

In 2012 is ek versoek om op kontrakbasis te help met die opstel van ‘n bateregister van al die erfstukke (heritage items) van die SA Weermag.  Dit was ‘n baie interessante en heilsame proses om hierdie oudhede te dokumenteer.  Tans doen ek kontrakwerk vir Vodacom.  As ek vandag terugkyk op my lewe kan ek soos Frank Sinatra sê: “I did it my way. Regrets, I have a few, but in the end I did it my way.”