Header Image

Johan Kruger (Cloaks)

Ek was van 1964 tot 1968 op Grey. Hoogtepunte op skool was om vir die Peaches-rugbyspan te speel en om saam met Tom Ferreira die Peaches-skêr te vervolmaak: ’n beweging wat tot vele drieë gelei het! Nog ’n hoogtepunt was al die kere wat my koshuispêlle my Sondagoggende uit die kerk gehou het om Rapport te lees en koffie en koekies te geniet.

Ek is in 1969 Vloot toe saam met ’n klomp Grey-manne (danksy Mike Maritz se oom, Genl. Hiemstra, wat dit vir talle van ons bewimpel het).

Tukkies toe in 1970 en M.B.Ch.B verwerf. GP-praktyk in Barkly-Oos vir drie jaar voordat ek in 1980 in Bloemfontein spesialiseer in ortopediese chirurgie. In 1986 privaat ortopediese pratyk in Bloemfontein (tans nog steeds), met spesiale belangstelling in sportbeserings en knie-chirurgie.

Getroud met oud-Tralie Esmè en het twee seuns en twee dogters.

Was betrokke by amateurstoei saam met my seun. Later op die uitvoerende bestuur. Was die SA amateurspan se spandokter na Afrika-kampioenskappe in Marokko in 1992. Ook betrokke by die Vrystaatse Rugby-unie (Cheetahs) se mediese komitee van 1986 tot 2016. Ek hou van jag en om moeilike bergpasse te ry om die adrenalien op te jaag.

My oudste seun, Johannes is in Desember 2019 op 43-jarige ouderdom skielik oorlede aan natuurlike oorsake.

Ek is nog steeds in privaat Ortopediese Praktyk in Bloemfontein en gelukkig gesond genoeg om te kan werk. In my vrye tyd oefen ek my vaardighede met ‘n rugbybal om saam met Tommie Ferreira weer eens ons beroemde en gevreesde “skêr “, wat ons met soveel sukses vir die Peaches uitgevoer het, by die volgende reünie te demonstreer.

< Back to our profiles