Header Image

Kobus Olivier

Ek het die voorreg gehad om my laaste twee jaar op skool te kon afsluit by Grey (ek was my hele skoolloopbaan van sub A tot std. 8 op ‘n plattelandse skool, Fort Beaufort in die Oos-Kaap). Wat ‘n ongelooflike ervaring was dit nie om deel te kon wees van ‘n trotse skool met ‘n ryke tradisie soos Grey, veral vir ‘n gemiddelde akademiese en sportleerling soos ek.

Ná skool was ek vir sowat twee jaar in die gevangenisdiens werksaam. In 1970 het ek by die destydse AA Mutual-versekeringsmaatskappy begin werk. Ná 50 jaar in die korttermynversekeringsbedryf waar ek in verskeie vertakkings en bestuurs- en opleidingselemente van die bedryf gewerk het (die laaste agttien jaar by Landmark-onderskrywingsmaatskappy waar ons die onderskrywing van kommersiële boere se bate- en aanspreeklikheid onderskryf het), het ek in 2021 afgetree.

Ek is in 1972 getroud met my skoolliefde, Dolly, met wie ek in 1965 begin uitgaan het. Sy was ‘n onderwyseres tot en met haar aftrede. Ons het twee seuns, van wie een ook in die korttermynversekeringsbedryf in Bloemfontein is. Ons ander seun is ‘n lektor by die in die departement Argitektuur by Kovsies. Ons het ook twee kleinkinders.