Header Image

LOOT PRETORIUS

Ek het in std. 5 by Grey aangekom en goeie vriende soos Fred van der Riet, Theuns Steyn, Pierre Potgieter en Piet  Mouton leer ken, saam met wie ek al die pad na matriek gestap het. Steve Strydom (klasonderwyser) en mnr Douglas (Engels) was puik onderwysers, wat hulle moes wees om die onmoontlike Jurie (Boetman) Geldenhuys in toom te hou.

Nooit juis op die rugbyveld hond-haaraf gemaak nie. Het heelagter in matriek probeer speel omdat ek gedink het ‘n mens hoef nie daarvoor fiks te word nie: Jy hang maar net daaragter rond en loop heen en weer oor die veld.

Ná matriek by Kovsies regte studeer en uiteindelik in die akademie beland. Op sy beste is die universiteit die plek van die Boek en die Idee, die amper volkome vryheid om die rigting van jou alledaagse werkslewe te bepaal, en om vir lang tye gedurende sabbatsverlof ander wêrelde te beleef. Die salaristjek het wel nie aan die verwagtinge voldoen nie. Oor studente praat ek liewer nie.

Getroud met Gerda (Coetzee). Ons het drie seuns wat almal nog in die land is. Twee is in die regsberoep en een (die slim een), ’n medikus. Net die middelste een het tot dusver twee kleinkinders gelewer. Maar ek bly hoopvol …

PS: Ek wonder deesdae ook al hoe meer of ek ooit uit Bloemfontein gaan wegkom, veral noudat die regering nie meer gedwonge verskuiwings mag doen nie.

< Back to our profiles