Header Image

Mac (Johannes) van der Merwe

Ek was bevoorreg om vir twee jaar deel te wees van ’n unieke groep seuns en onderwysers wat slegs op ’n skool soos Grey sou kon bestaan.

In 1969 by die Parabats in Bloemfontein ingeval. Superfiks van met houtpale en betonblokke rond te hardloop, klaar ek op 8 Desember 1969 uit. Vang graad in Bourekenkunde op Kovsies en begin in 1971 (swot nog) werk by boukontrakteurs teen ’n astronomiese salaris van R120 per maand.

In 1979 trou ek met die liefde van my lewe, Michele Cilliers, ’n maatskaplike werker. Ons het twee getroude seuns, Handre en Cilliers, en drie pragtigte kleinkinders. Handre en sy vrou, Hanri, is in Centurion waar hy ’n groot tuindienste-onderneming en Hanri ’n suksesvolle naelsalon en voet- en handsorgkliniek bedryf. Cilliers en sy vrou, Katherine, gee skool in China. Hulle dogtertjie is in China gebore.

In 2015 het ek uit die boubedryf getree om Michele te help met die tuindienste.  Nadat ons 38 jaar lank op Mafikeng gewerk en gewoon het, het ons in Augustus 2019 Centurion toe getrek om nader aan ons kinders te wees:  twee geswore Cheetahs in Blou Bul-land. Ek weet nie hoe lank dit my gaan vat om die Blou Bulle te rehabiliteer nie, maar as ek dit nie regkry nie, sal dit nie weens ‘n gebrek aan probeer wees nie.

< Back to our profiles