Header Image

Mike Maritz

Ek is getroud met Anette Kruger, ‘n regstreekse agterkleinkind van President Paul Kruger.  Haar en Theuns Steyn se oupagrootjies het die oorlog verklaar om die Tweede Vryheidsoorlog in te lui!

Ek het vyf kinders en sewe kleinkinders.  Twee van my seuns is saam met my in die Pretoriase Balie. My dogter is ‘n prokureur en twee ander seuns is in besigheid.  My oupa was Regter-President van die Transvaal en my pa en broer albei prokureurs, so duidelik probeer ons om met die Steyns mee te ding.

So deur die jare het ek ‘n hele klomp interessante sake en kliënte gehad, soos Louis Luyt in sy saak teen Mandela, Allan Boesak, Billie Rautenbach, en die e-tolsaak. In die Mandela-saak was sowel my prokureur as die verhoorregter, William de Villiers, oud-Greys. Die regter het soos dit ‘n goeie oud-Grey betaam, bevind dat Mandela ongeloofwaardig was.  Volgens die Konstitusionele Hof egter, het ek hom onbillik gekruis-ondervra.

Ek het vir FW de Klerk met sy voorlegging aan die Waarheidskommissie gehelp.  Ek het ook in ‘n stadium opdrag ontvang om PW Botha ná sy aftrede te verdedig, maar omdat ek nie bereid was om by sy huis in Wildernis te konsulteer nie, is ek in die pad gesteek. ‘n Paar jaar terug het ek in ‘n saak vir Krygkor vir oud-minister Pik Botha gekruis-ondervra.  Dit het geëindig waar hy gesê het: “OK, dan sal ek toegee dat al my getuienis ‘n klomp nonsens is!”

Ek het ‘n klompie Comrades-marathons gehardloop en ook ‘n klompie Argus-fietstoere gedoen. Ek het ‘n avokado-boerdery op Tzaneen, geniet diepseehengel, duik en seil in Mosambiek, speel af en toe swakkerige gholf en skilder as die gier my beetpak. Desembermaande hou ek en my hele familie in Gouritsriviermond vakansie. In die winter roep die Bosveld my.

< Back to our profiles