Header Image

Peet (Petros) Weideman

Ek was vanaf standerd 5 op Grey.  Steve Strydom, ons klasonderwyser, het my die bynaam van “Petros” gegee.

Ná matriek het ek op 6 Desember 1968 by die Aktekantoor (Departement Justisie) begin werk.  Die volgende jaar het ek my diensplig in die Leërgimnasium op Heidelberg voltooi, waarna ek my werk by die Aktekantoor in Bloemfontein hervat en deeltyds die Nasionale Diploma in die Registrasie van Aktes by die Justisie Kollege in Pretoria verwerf het.  Dit was ‘n driejaar-kursus.  Later het ek ook die Gevorderde Diploma in Staats- en Munisipale Administrasie aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat behaal.

Ek het my werk baie geniet en gevorder tot Adjunk-Registrateur van Aktes.  Ná 43 jaar diens het ek in Julie 2010 afgetree.

Ek woon nog steeds in Bloemfontein.  Ek hou my besig met my dogter se kinders wat in Bloemfontein skoolgaan.  Ons het ook twee seuns wat albei op Grey was.  Die oudste is ‘n prokureur in George en die jongste bestuurder by twee Windplase in Tsitsikama.  Ons het ses kleinkinders.

My stokperdjie is my tuin en Bonsai-bome.  Toevallig woon ek in dieselfde straat waar twee van ons gunsteling-onderwysers, “Patat” Cronjé en Michau Heyns, gewoon het.  Michau woon nog steeds daar.

< Back to our profiles