Header Image

Piet (Bom) Louw

Ná skool en ‘n jaar in die weermag op Walvisbaai, het ek in 1970 my Landboudiploma op Glen verwerf.  Ek is daarna terug Suidwes toe waar ek ‘n jaar lank vir Dirk Mudge (DTA) gaan boer het.

In 1972 het ek teruggekeer Bloemfontein toe en ‘n Spanner-kursus aan die Technikon voltooi. Ek het eers ‘n bietjie gaan rugby speel by Kovsies voordat ek in 1974 terug is plaas toe om ernstig met Merino’s te begin boer in die Jagersfontein-distrik.

In 1980 is ek met Alta getroud en in 1981 het ons ‘n seuntjie, PJ, gekry en verloor ná 10 dae. Alta is in 1994 oorlede aan komplikasies weens diabetes. In 1995 is ek egter weer getroud en het sommer ‘n kitsfamilie bygekry:  Jayné se drie kinders.

Ek het die plaas in 2000 deeltyds gelos om ‘n houtfabriek op Norvalspont op die been te bring, maar die plaas is maar in my bloed en ek is in 2003 weer voltyds terug.

Driaan, ons oudste seun, is in 2013 oorlede aan ‘n long-embolis.  My dogters, Cornelle en Anzé, skoondogter, Esmé, en my skoonseuns bly almal in Bloemfontein en het my ‘n baie gelukkige oupa van vier kleinseuns en een-en-‘n-halwe dogtertjies gemaak (die halwe enetjie gaan DV in Oktober haar verskyning maak).

< Back to our profiles