Header Image

Xander (Fennas) Fenwick

Ná skool geloot vir diensplig te Lugmaggimnasium, Valhalla, met die voorneme om ‘n vegvlieënier te word. Weens my minder goeie wiskundesimbool in matriek, besluit die owerhede dit is nie in die land se beste belang om my as vlieënier op te lei nie.

Ek neem die beste besluit van my lewe en swot aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege. Ná my opleiding kry ek ‘n pos op Ladybrand in 1973. Hier val die meetsnoere op mooi plekke vir my en word ek bevorder tot Departementshoof, Adjunkhoof en in 1991 tot Skoolhoof van die Primêre Skool Ladybrand: ‘n pos wat ek vir 20 jaar tot my aftrede in 2010 by beklee het.

Ek ontmoet my vrou, Eileen, op Ladybrand. Twee dogters en ‘n seun word uit die huwelik gebore, een ‘n dokter en die ander twee onderskeidelik ‘n onderwyser en ‘n skoonheidsterapeut. Ons is geseënd met vyf kleindogters en dit lyk asof die familienaam onder druk is.

‘n Potjie gholf met pêlle, jag, hengel en tarentaalskiet kikker die luilekker aftreedae op. Deur baie te lees en om lekker resepte te beproef, hou ‘n “ou” man verder besig.

Ek volstaan met die volgende gedagte uit een van Koos du Plessis se liedjies: “Wat ek het, is net geleen, wat ek is, is net genade.”

< Back to our profiles